Go to BOOK SA home
21 Mar 2010

Crime Beat

@ BOOK Southern Africa

Chris Karsten praat met Crime Beat se Chanette Paul

October 19th, 2009 by Mike Nicol

chris karstenchanette paulseisoen van sondeBlou skoenlappers en Oxytorch vlamme, politiese voetwassers en gewetenlose wetenskaplikes – hier kom ’n ding.

Know thy Divine Comedy, this murderer does and it is no smiling matter.

Chris Karsten praat met Crime Beat oor sy nuutste roman Seisoen van sonde (Human & Rousseau).

Flapteks:
Die polisie soek na ’n reeksmoordenaar. Die eerste lyk, dié van ’n vrou, word na ’n storm op die rotse gevind vasgebind aan ’n paal met ’n papie in haar toegewerkte mond. Die lyke wat volg is elk op nog meer bisarre wyse agtergelaat.

Jack, ’n psigopaat, is sistematies besig om mense te elimineer vir sy enigmatiese meester, Minos. Die laaste slagoffers op Jack se lys is Wim, ’n skoenlapperboer naby Wildernis, en sy assistent, Portis. Beide het kontak gehad met die regeringsprojek Antenor in die Apartheidsjare, Wim as navorser en Portis as jong struggleleier.

Onderhoud:

Crime Beat: Is Seisoen van sonde eerder ’n sielkundige riller as ’n speurverhaal? Of waar sou jy dit min of meer plaas op ’n genre-skaal?

Chris Karsten: Miskien ’n “sielkundige speurriller” omdat ek probeer het om in ’n speurverhaal sekere karakters se afwykende gedrag te verken, en die gevolge daarvan.

Crime Beat: Jou navorsing wat onderwerpe insluit soos La Divina Commedia, lepidopterologie en vele ander, is merkwaardig. Hou jy suiwer by die feite van jou navorsing of verbuig jy sommige om by jou storie te pas?

Chris Karsten: Poëtiese vryheid is ’n wonderlike ding. Aan die hand van Dante en lepidoptera kon ek my eie helse versies maak en my eie blou skoenlappers in Canossa gaan ontdek, sonder om ooit die feitelikheid van my navorsing onreg aan te doen. Dit is per slot van sake fiksie, ontleen aan nie-fiktiewe bronne en soms feitelike gebeure.

Crime Beat: Ek bespeur in Seisoen veel meer van ’n literêre inslag as meeste Afrikaanse speur- en spanningsromans en tog bly dit ’n toeganklike boek. Is dit wat jy wou bereik het?

Chris Karsten: Oor die “literêre inslag” weet ek nie. Ek wou net ’n storie skryf en is bly dat lesers dit as toeganklik ervaar; dis so bedoel. Ek het hard probeer om nie verstrik te raak in dikwels gekompliseerde navorsing nie.

Crime Beat: Het jou joernalistieke loopbaan jou tot hierdie boek gelei? Verklap jy politiese en ander geheime verdoesel as fiksie?

Chris Karsten: Joernalistieke nuuskierigheid het sekerlik gehelp, maar dis al. Verdoeselde geheime? Die karakters se sienings en optredes is in fiktiewe storieverband en ek is nie ’n marionetspeler wat hulle toutjies trek vir ’n persoonlike agenda nie.

Crime Beat: Jy het ’n reeks boeke oor ware misdade geskryf en nou ’n misdaadroman. Hoe sluit ware misdaad en misdaadfiksie bymekaar aan en hoe verskil die skryfproses wanneer jy fiksie skryf?

Chris Karsten: Met werklike misdaad word ’n skrywer begrens deur bepaalde gegewens waarvan jy nie mag afwyk nie. Die verloop van die verhaal is reeds gevestig, ook die karakters: hulle is soos hulle is, jy kan niks daaraan doen nie. Dis feite sonder die gerief van poëtiese vryheid. (Al het Truman Capote in In Cold Blood gewys hoe ’n voortreflike vakman hierdie gegewens in ’n kragtoer kan aanwend.) In misdaadfiksie is jou hande losser. Jy kan na hartelus vir jou eie moordenaar as’t ware ’n snor gee, of ’n ander een se baard afskeer. En jou eie storie se verloop ontwikkel.

Crime Beat: Die storie is nie waarlik ’n who-dunnit nie, ook nie heeltemal ’n how- of why-dunnit nie. Wat is die storievraag waaraan die hoofspanningslyn van ’n boek soos Seisoen gekoppel is?

Chris Karsten: Die premis van die storie laat ek liefs aan die leser oor. Daar is wel teenpole soos Wim en Jack wat spanning skep terwyl hulle onvermydelik op ’n pad van botsing na mekaar aangedryf word. Die vraag oor wie die beste, of slegste, daarvan gaan afkom, is deel van die spanning, glo ek.

Crime Beat: Wat het jou laat besluit om Seisoen ná ’n boek soos Frats te skryf? Wat was die nuwe uitdagings?

Chris Karsten: Tussen Frats en Seisoen van sonde was ’n reeks van ses boeke oor ware misdaad en ’n oorsig oor Charlize Theron se lewe en welslae in Hollywood. Ek het vroeër ook twee jeugboeke geskryf. Met Seisoen wou ek bloot ’n nuwe genre met nuwe uitdagings aanpak.

Crime Beat: Wie is jou gunsteling karakter is Seisoen?

Chris Karsten: Dis soos om te vra vir wie van jou kinders is jy die liefste. Elkeen het karaktertrekke waarvan ek hou, of nie hou nie. Ek hou van Wim met sy skoenlappers, maar hy is bietjie van ’n bleeksiel; ek hou van Jack omdat ek hom jammer kry; ek hou van Portis omdat hy so onversteurd is ondanks sy ellendes; en so aan.

Crime Beat: Dink jy Jack sou dalk nie ’n reeksmoordenaar geword het nie as Ester hom daadwerklik onder haar vlerk geneem het?

Chris Karsten: Wie weet? Dis deel van die ewigdurende debat tussen “nurture” en “nature”.

Crime Beat: Wat is jou gunsteling lees-genre en wie is jou gunsteling skrywers?

Chris Karsten: Ek lees soos die stemming my pak. Nou besig met Karel Schoeman se Titaan>, tussenin Cormac McCarthy se No Country for Old Men. Maar John Irving en Ernest Hemingway besliste gunstelinge.

Crime Beat: Hoe voel jy oor Afrikaanse misdaadfiksie en die ontploffing van die genre in Afrikaans?

Chris Karsten: Verskeidenheid is altyd goed, iets vir elke smaak, veral as dit in Afrikaans ook neig na Europese smake (Henning Mankell, Fred Vargas, ens.) nie net Amerikaanse pulp-fiction nie.

Crime Beat: Hoe voel jy daaroor dat mense soos Ampie Coetzee Afrikaans as gedoem beskou?

Chris Karsten: Terwyl pratende koppe daaroor debatteer, moet Afrikaanse skrywers bly skryf en Afrikaanse lesers bly lees, en hoe groter die verskeidenheid des te beter vir die verskeidenheid leessmake.

Crime Beat: Kerneels Breytenbach (in Rapport) hoop jy gebruik die agterdeur wat jy oopgelaat het en skryf ’n vervolg. Gaan jy? Wat kom volgende?

Chris Karsten: Miskien later. Maar eers hou ’n ander kalant hom met ’n paar gruwelikhede besig.

Biografiese inligting:
Chris: Ek is getroud, het twee seuns en woon in George aan die voet van die Outeniquaberge. Ek lees en skryf, en Sondagoggende bepeins ek my sondes op strandwandelings. En in die gevleuelde woorde van die ou digter: Dis al.

Die amptelike weergawe: Chris Karsten is op 9 November 1947 op Morgenzon in Mpumalanga gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal en behaal ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria (1970). Hy werk daarna as koerantjoernalis by Die Volksblad, Beeld en Rapport.

Chris is die skrywer van twee kinderboeke, Floris sapiens (1985) en Die jokkie wat met perde kon praat (1997). Hy ontvang die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) vir Floris sapiens. Sy eerste roman, Frats, het in 2007 verskyn, en is ’n jaar later met die ATKV-prosaprys bekroon.

As koerantman was hy in verskillende joernalistieke hoedanighede gemoeid by baie van die stories wat in sy Ware Misdaad-reeks opgeneem is. Van die titels wat sedert 2007 in dié reeks verskyn het, sluit in Riller in die raaisel, Opspraak deur moord, Dodelike vroue, Verlore onskuld en Boos en bisar.

Sy boek oor aktrise Charlize Theron het in Mei 2009 verskyn en is in Afrikaans (Charlize: Ek leef my droom) en Engels (Charlize: Life’s One Helluva Ride) beskikbaar.

Uittreksels uit resensies
Beeld – Jaybee Roux
Karsten het die magiese vermoë om lesers aan die hart te gryp deur ’n doelbewuste afstand tussen leser en skrywer te handhaaf.

Die roman se joernalistieke aanslag word versterk deurdat ’n hele paar aspekte – soos ’n oudminister se voetewassery en apartheidagentskappe wat op groot skaal dokumentêre bewyse van hul wandade vernietig – deur mediaberigte geïnspireer is.

Hegte storielyne wat vernuftig ineengevleg word, karakters wat oortuig, foutlose navorsing, veelvlakkigheid – selfs die omslagontwerp is in die kol.

Om hierdie boek gering te skat of ongemerk by jou te laat verbygaan, is, die hemel hoor my, ’n sonde wat geen regverdige god ongestraf sal laat bly nie.

Rapport – Kerneels Breytenbach
Gewonder wie die volgende groot speurroman gaan skryf ná Deon Meyer? Hier’s hy – Chris Karsten.

Die ding waarna elke speurskrywer mik, is ’n unieke verhaal. Moordenaars mik weer na die volmaakte moord. In Seisoen van sonde word die volmaakte moorde gepleeg – op ’n manier wat die boek uniek maak.

’n Oud-minister uit die apartheidsdae sit die hele ding aan die gang deur die voete te gaan was van die moeders wie se kinders so geheimsinnig verdwyn het. Voordat mens onthou wie de vlok dit was wat nou mos onlangs self so iets gedoen het, begin daar lyke tussen Sedgefield en Knysna opduik.

Die plesier van hierdie boek lê in die feite, die prosessuele stappe wat gedoen word, die uitrafel van die kleinste feite. Die mense en hul geskiedenisse wat hy oopskryf, is meer driedimensioneel as wat mens gewoonlik in speurverhale aantref.

Karsten orkestreer sy feite soos ’n groot dirigent. Jy besef gou dat hy ontsaglik baie navorsing gedoen het om hierdie verhaal te kon skryf – oor die geskiedenis, die geologie en geografie, oor die plant- en dierkunde van Suider-Afrika. Sy mensekennis is groot, soos mens gou agterkom.

As rigsnoer gebruik hy Dante se Divina Commedia. Die vernuf waarmee hy dit bemeester, is grotendeels die fondament van hierdie kragtoer van ’n speurverhaal. Daar is ’n ligte kopknip in die rigting van Thomas Harris se Silence of the Lambs. Gaan vind self uit wat dit is – dis die moeite werd!

Volksblad – Stoffel Cilliers
Gee Chris Karsten die eer wat hom toekom. Hy het ’n bielie van ’n riller geskryf wat die leser moeilik neersit.

Die aanbieding is besonder visueel, asof die skrywer die leser na sy tuisteater genooi het.

Die verhaal is vindingryk gestruktureer. Elke hoofstuk bevat verskillende toneeltjies – soos in ’n draaiboek. Die drie storielyne raak kundig ineengevleg.

Die skrywer skep nie ’n besonderse held wat bose oortreders deur fyn vernuf laat boet nie. Belangriker is eerder dat die onreg van die verlede deur die waarheid ingehaal word.

Wat werklik beïndruk, is die skrywer se wye algemene kennis en sy deeglike navorsing. Hy skryf deskundig – of sy onderwerp nou skoenlappers of skilderye, lykskouingsprosedure of die Griekse mitologie is. Daarom slaag hy daarin om die leser selfs ’n mate van begrip te laat voel vir die verskriklike wandade van die reeksmoordenaar.

Met hierdie eietydse, knap nagevorste roman vestig die ervare en veelsydige Karsten hom ongetwyfeld as een van ons vaardigste spanningsverhaalskrywers.

Uittreksel uit Seisoen van sonde.:
AGT DAE VOOR PASE

Sy prooi is op twee foto’s, ’n man, vet en nie meer jonk nie, miskien al sewentig. Op die gesigskoot oë spletig tussen digte wenkbroue en vlesige wange, rossig van die lekker lewe. Op die vollyffoto hang ’n swaar buik.

Die gesig en naam van sy prooi is vir die jagter vaag bekend, maar nie belangrik nie. Wel van belang is adres en gewoontes. Die prooi woon saam met sy vrou in ’n kompleks van tuinhuise, almal boere-Toskaans. Wat die jagter meer beïndruk as dié voorkeurstyl van die nouveau riche, is die omheining – geëlektrifiseerde draad op ’n hoë betonmuur, by die enigste toegang ’n waghuis met elektroniese hek, 24 uur beman.

Een van die prooi se gewoontes is om soggens sesuur op te staan. Waarvan die jagter onbewus is, is die ritueel van die opstaan, affektasies van die prooi wat sy vrou al langer as ’n dekade sedert sy aftrede irriteer. Maar soos dit ’n goeie vrou betaam, verduur sy dit wanneer hy soggens na die bedlig reik en die nag se slym uit sy bors kug. Haar kop is weggedraai wanneer sy luister hoe hy steunend sy logheid uit die bed uitspook, hoe hy kreunend sy bene in die pype insukkel van die sweetpak waarvan sy die buikmaat met ’n nuwe rek moes vergroot, die gehyg om die veters van die duur Nikes te knoop. En immer op sy kop die pet, sy gunsteling, die een met die inskripsie USMC saam met drie sterre outentiek in goue draad gebosseleer.

Wanneer hy uitslof, wag sy op die geklop van die wandelstaf van geelhout teen die kapstok in die portaal, ’n teken vir die drie Corgi’s om te begin blaf. Agter die deur van die motorhuis waarin hulle snags slaap, is hulle hees en amegtig, want hulle is, soos hulle baas, oud en plomp van bederf. Sy staptog soggens is op aandrang van sy kardioloog, die drie Corgi’s s’n op aanbeveling van hulle veearts.

Die jagter dink en skryf en oorweeg sy opdrag. Diep in die nag begin ’n strategie vorm aanneem. Hy maak ’n inkopielys. Vroegoggend vertrek hy met sy swart Ducati-motorfiets na die park in Nieu-Muckleneuk, na die roetes van drawwers en stappers onder die kameeldorings en kiepersolle en jakarandas deur.

Hy merk die vet man met drie Corgi’s. ’n Leiband is onnodig; hulle is nie baldadig nie en dwaal nie af nie. As hulle onder boomstamme snuffel, is dit net vlugtig voor hulle weer hulle baas se spoor vat.

Die jagter maak aantekeninge en bespied die oefenroetes. Die drawwers, jonk en fiks, verkies die uitdaging van die slingerende voetpad hoër op tussen die bosse van die helling. Die stappers, ouer, die plaveiroete onder deur die bome, al langs die fleurige randakkers van die groen grasperke. Wat die jagter opval, so vroeg in die oggend, is die min stappers. Miskien, dink hy, verkies hulle om laatmiddag te gaan wandel, wanneer ou bene kans had vir ontdooi.

Hy hou sy prooi dop, sien hoe die honde die stamme beruik, bene lig.

Die jagter kry die plek vir sy hinderlaag, buite sig van drawwers.

Terug by sy woonplek soek hy op die internet, en met ’n goedkoop selfoon huur hy ’n skeepsvraghouer van twaalf kubieke meter by Mr Box Self-Storage naby Wildernis aan die Suid-Kaapse kus. Die huurgeld vir ses maande, op ’n vals naam en adres, gaan deponeer hy in kontant. Hy vernietig die SIM-kaart en gooi die selfoon langs die pad in ’n stormwatersloot, tussen plastieksakke, bierblikke, bottelskerwe.

Vir sy inkopies los hy die motorfiets in sy enkelmotorhuis en vertrek met ’n wit VW Caddy-paneelwa. Op sy lys by die hardewarewinkel is ’n industriële slot van tungstenkarbied vir die vraghouer se deur, ’n rol sterk kleefband, ’n plastiekseil, ’n graaf, ’n stel wellingtons, nylonbergklimtou, en ’n Oxytorch met propaangaskannetjie, van die soort wat loodgieters gebruik. By ’n supermark koop hy ’n kilogram wors, volgraanbrood, kaas en ses eiers. By ’n apteek ’n boks met latekshandskoene.

Vir die laaste item op sy lys ry hy na die MultiFlora-blommemark in City Deep. Hy koop dertig bondels vars snyblomme – blou alstroemeria, pers anemone, rooi angeliere, wit dendranthema, geel madeliefies, pienk ranonkels en koningsproteas.

Vroeg die volgende oggend, lank voor ses, doen hy soos gewoonlik sy isometriese oefeninge. Hy oefen tot die lang hare nat in sy nek hang, sweetdruppels in sy swart baard glinster. Onder die stort begin hy ontslae raak van sy hare en baard. Hy knip dit eers met ’n skêr, skeer daarna die stoppels van sy kop en gesig af, ook die res van sy liggaamshare. Glad en haarloos tintel die vel oor sy soepel spiere.

Van die ou kisyskas teen die agterste muur van sy motorhuis verwyder hy ’n staander, bedek met ’n ou laken, sodat hy die deksel kan oplig om by sy noodhulphouer uit te kom. Hy meng ’n paar mikrogram carfentanil in vyf stukke wors en trek ’n verdunde oplossing daarvan uit ’n ampul in ’n spuitnaald op.

Please register or log in to comment