
Wat is die ooreenkoms tussen ’n snoeiskêr en ’n bottelnek? Piet Steyn kan albei in gruwelwapens omtoor. Crime Beat se Chanette Paul het meer gaan uitvind oor die skrywer en sy nuutste Pine Pienaar-krimi, Bottelnek.
What she found out was that if you did your stint as a soldier on the border in 1989 you have reason to be scared, very scared. And, she says, it’s probably a good idea to hide away any and all bottles.
Karin Brynard, ’n vryskutjoernalis wat erken sy het al meer misdaadromans gelees as wat vir salige nagrus goed is, sê in haar resensie in Rapport oor Piet Steyn se debuut, Snoeiskêr, onder meer: ‘As ’n kragwoord sterker as “mapstieks” jou vroomsinnigheid aantas; as ’n glipsie met die broodmes jou na die vlugsout of Valium laat gryp; as jy geneig is om met ’n nagliggie aan te slaap en dikwels in die fliek deur jou vingers na die skerm te loer … Dan is jy te lig in die broek vir hierdie breker van ’n boek.
‘Piet Steyn is ’n nuwe boitjie op die blok van Suid-Afrikaanse misdaadskrywers. En met sy debuutroman, Snoeiskêr, is hy een wat sommer met die intrapslag ’n bloederige spoor trap. Jy moet behoorlik in ou Bybelse terme jou lendene omgord en alle sfinkters toegeknyp hou om hierdie boek deur te werk. Maar vir gesoute misdaad/riller-maniakke is dit poerring, dank u wel!’
Wel, die boitjie is terug en sy tweede krimi, Bottelnek, tas weer eens die sfinkters aan. Om alles te kroon het ek die laaste hoofstukke gedurende ’n kragonderbreking by kerslig gelees. Buite was ’n storm van formaat besig om te woed en die kleine Stanford was donkerder as Egipte snags. Ek was boonop alleen. Glo my, dit is nie aan te bevele nie!
Die persverklaring vir Bottelnek lui as volg:
‘Toe die son een oggend taaierig loskom uit die greep van Goudveldse mynhope, skop Joe Smit sy slaapkamerdeur oop, stap tot by die dubbelbed waar twee figure vervaard probeer orent kom en trek die sneller van sy 9mm Astra twee keer. Hy klim in sy ou Mazda en ry noord, weg van die plek waar alles vir hom begin en geëindig het, en terug in sy verlede in. Daar is nog sewe patrone in die Astra se magasyn.
‘In ’n Goudveldse bordeel laat ’n telefoonoproep Peet Gagiano hom loswikkel uit die klewerige greep van ’n rooikop: Sy seun en dogter is ontvoer. En toe die kinders later in ’n verlate motor se kattebak gevind word, is daar op elkeen se stuitjie ’n kopbeen uitgekrap – byna dieselfde tatoeërmerk as wat hul pa op sy arm het. By ’n besige kruising in die N12 hou superintendent Pine Pienaar stil by ’n silwer Mercedes wat dwarsweg oor die middelman hang.
‘In die tweede sup. Pine Pienaar-misterie, Bottelnek, vermeng Piet Steyn twee van die stormagtigste plaaslike werklikhede, ’n mynersbestaan en die Johannesburgse onderwêreld, in ’n intrige wat lesers nagte lank sal laat rondrol.
Stoffel Cilliers, vryskutresensent, sê in die Volksblad in ’n resensie oor Bottelnek onder meer: ‘Dit is ’n besonder oortuigende, realistiese spanningsroman, sterk visueel aangebied, met diepte van insig in uiteenlopende karakters, asook in die eiesoortige misdaadtoneel van moderne Suid-Afrika.
Piet het ingestem om ’n onderhoud met Crime Beat te doen:
Crime Beat: Hoe voel jy oor die resensies wat jy tot dusver oor jou twee krimi’s gekry het? Onder meer ook die nare Biebouw-resensie op LitNet oor Snoeiskêr?
Piet Steyn: Heel tevrede. Die Biebouw-resensie was so in teenstelling met ander resensies dat ek besef het dit is net ʼn soeke na reaksie. Dit was ook duidelik dat die vent wat dit geskryf het die boek nie eers ordentlik gelees het nie! Ek het dit geïgnoreer.
Crime Beat: Dis duidelik dat jy die plekke waaroor jy skryf besoek het. Jy gee dit heerlik beeldend weer – selfs die Weskus, al speel daar net ’n baie klein gedeelte van die storie daar af. Kies jy die plek en gaan daarheen of gebruik jy plekke waar jy reeds was?
Piet Steyn: Beide. Ons het vier seuns wat oor die land woon en dit help! Ek wil ook graag soos Louis L’Amour kan sê: ‘As ek skryf oor ʼn fontein ís hy daar, en die water ís soet’.
Crime Beat: Ek het ongelukkig nog nie Snoeiskêr gelees nie. Soms kon ek dus nie Pine Pienaar se paniek en swaarmoedigheid heeltemal ontrafel nie en tog kon ek volg wat onder die oppervlak borrel. Hoe moeilik is dit vir jou om ’n reeks te skryf met die wete dat lesers die boeke buite volgorde gaan lees?
Piet Steyn: Dit is moeilik en seker ʼn probleem met enige reeks, want lesers sal altyd bykom. Ek probeer om nieteenstaande, die storie so aan te bied dat nuwe lesers wel ook kan volg. Dit is egter nie maklik nie – en sonder die voorafgaande is die verband in ʼn reeks weer nie moontlik nie!
Crime Beat: Jy was self ’n skoolhoof en in Bottelnek is een van die ongawe karakters ’n skoolhoof. Was dit tong in die kies bedoel?
Piet Steyn: Nee glad nie! Ek moes net ʼn karakter skep wat dit die minste kon bekostig dat sy ‘grens-manewales’ op die lappe kom.
Crime Beat: Jy was ’n navigator in die Lugmag. Hoeveel van die Grensoorlog het jy self beleef?
Piet Steyn: Ongelukkig(?!) nie veel nie! Terwille van my skryfwerk sou ek graag meer daarvan wou beleef het. As skoolhoof het egter baie te doen gekry met die trauma van mense van wie seuns en geliefdes daar dood of vermink is.
Crime Beat: Jou stories is wreed, jou karakters gefolter en dikwels self onmenslik. Die dade wat gepleeg word is grusaam. Van waar die fassinering met dit wat donker en boos in die mens is?
Piet Steyn: Ek dink dit is baie makliker om te skryf oor dit wat mooi en pragtig in en om ons is. Dit is ʼn soort van ʼn uitdaging vir my om die teenoorgestelde geloofwaardig te kan aanbied. Die meeste van die grusame dade waarvan ek skryf gebeur daagliks om ons. Is dit nie maar net realiteitskryfwerk nie?
Crime Beat: Hoe sien en ervaar jy jou hoofspeurkarakter, Pine Pienaar?
Piet Steyn: Ek raak partykeer vir hom die moer in as hy soos ʼn sissie oor dinge kan tob! Maar as jy ʼn enigmatiese karakter probeer skep kan jy nie die versugtinge in sy binneste mis skryf nie. Ek voel partykeer tog om die lesers te skok en hom met ʼn warm yster in die . . . aan die gang te kry!
Crime Beat: Bottelnek gaan veel meer oor Joe en selfs Peet as oor Pine terwyl een van jou gunsteling skrywers, Michael Connelly, se reeksspeurder, Harry Bosch, deurgaans die hoofkarakter bly. Is dit ’n doelbewuste afwyking van die genre-tradisie?
Piet Steyn: Deur net van een hoofkarakter gebruik te maak, het sy voordele – soos dat jy minder verskillende karakter-bou hoef toe te pas. Vir my werk dit nie, ek raak uitgekuier met een hoofkarakter. Ek hou daarvan om van so ʼn wyd as moontlik, uiteenlopende groep goed deurskryfde karakters gebruik te maak.
Crime Beat: Van jou vroulike randkarakters is redelik onguur, maar nie een van hulle is werklik boos soos jou manlike karakters nie. Jy gaan ook besonder sag te werk met Pine se geliefde, Ann, al figureer sy nie veel in hierdie verhaal nie. Bespeur ek hier ’n gender-onderskeid op ’n skaal van boosheid?
Piet Steyn: Nee glad nie! Ek wíl nog eendag ʼn baie bose antie skep wat my lesers sal laat wakkerlê! Die probleem is net dat vroulike reeksmoordenaars meesal gif gebruik en beslis nie kele met bottelnekke of duime met ʼn snoeiskêr afsny nie. Hoe oninteressant!
Crime Beat: Wat vir my veral opvallend was in jou boek, en dit het my oneindig beïndruk, is die fyn detail in die beskrywing van jou karakters se uiterlike. Jy gebruik nie omslagtige omskrywing nie, dikwels net ’n paar baie akkurate kwashale, maar selfs ’n terloopse karakter soos die Sjinees in die negosiewinkel, kon ek voor my sien staan. (Dieselfde gebeur terloops ook met ruimtebeskrywings). Waar kom die fyn waarnemingsvermoë vandaan?
Piet Steyn: Waar dit vandaan kom kan ek jou nie antwoord nie. Dit is maar net iets wat ek van kleinsaf gewoond is om te doen – om mense, situasies en die omgewing vir myself op te som. Veral die menslike gedeelte het my as skoolhoof goed te staan gekom.
Crime Beat: Is die volgende Pine Pienaar boek op pad? Sal jy dalk in die toekoms ’n ander genre aanpak?
Piet Steyn: Die derde van die Pine Pienaar trilogie behoort volgende jaar op die rak te wees – en dan los ek hom om saam met Ann mooi oud te word. Ek glo nie ek sal ooit afwyk van dié soort genre nie, maar ek werk reeds ook aan ʼn soort sage in ʼn plek soos die Vredefort-koepel.
Crime Beat: Waarmee koop jy jou vrou om, om jou handgeskrewe manuskripte (dit het my uitgeboul!) oor te tik?
Piet Steyn: Met liefde en tjoklits! Soos wat my vaardighede vermeerder moet ek darem erken dat ek al hoe meer self van die tikwerk doen (met die een vinger!) Maar sy geniet dit. Die skryfwerk is vir ons iets om saam te doen so met die aftrede, en dis heerlik!
Oor Piet Steyn:
Piet Steyn is op 28 Augustus 1944 gebore en het op Odendaalsrus en die Vrystaatse Goudveld grootgeword; ’n ongenaakbare streek waarvoor hy nou nog baie lief is.
Met sy sterk wiskundige aanleg was hy tydens sy diensplig in die lugmag as navigator. Hy bekwaam hom as wiskunde-onderwyser aan die Pukke, maar los onderwys om as myner geld bymekaar te maak. Ná ’n rotsstorting en dinktyd in die hospitaal, besef Piet dat onderwys ’n oorheersende roeping is en sit sy loopbaan as onderwyser voort by Welkom Gimnasium. In dié tyd verwerf hy B.Ed en M.Ed buitemuurs aan die Universiteit van die Vrystaat.
In 1984 word hy skoolhoof van Vrede Hoërskool waar hy die twee groot liefdes in sy lewe, wiskundeonderrig en rugbyafrigting, met groot sukses beoefen tot en met sy aftrede in 1996. Om die verveeldheid van die pensioenjare te help verdryf, het hy selfs ’n ruk lank in Engeland gaan wiskunde doseer.
Dit is eers in 2005 dat hy bewus word van sy skryftalent toe hy begin om vir ‘n plaaslike koerant ’n weeklikse rugbyrubriek te skryf.
Omdat sy tikvermoë hom in die steek laat, skryf hy nie op ’n rekenaar– maar met pen en papier. Sy vrou, Annie, tik sy werk dan later vir hom oor.
In 2007 word sy debuutroman, Snoeiskêr, aangewys as ’n finalis in Sanlam/Insig se Groot Romanwedstryd en sy tweede boek, Bottelnek, verskyn in 2009.
(Bronne: Mary-Ann Cillé op die Volksblad webwerf en NB Uitgewers.)
Please register or log in to comment